M-Bulletin-top
 

21 Augustus 2017

Nuwe kuierplek kry ‘n naam

Die Byekorf 2

“Sien jou pouse by die… um…”, of “Kom Luister na Radio Merensky daar by die nuwe… um”? Vir Hoërskool Merensky was “um” eenvoudig nie goed genoeg nie en het die tyd aangebreek om die besondere, nuutgeboude “um” te doop. Daarom dat elke bloubloed Plasie onlangs die geleentheid gehad het om sy voorstel vir ‘n naam vir die nuwe kuier-area in die middel van die skool te maak. Hierdie opelug-amfiteater staan nou waar netbal- en tennisballe vroeër weerklink het.

Vele kreatiewe voorstelle is ingehandig, onder andere Weiveld, McLands, Da Chillas, Plasie-stasie, Die Melkweg, Die Watergat en Die Krip. Dit was egter Dirk Albertyn (graad 11) wie se voorstel Die Byekorf deur Plasieland se hoof, mnr. Magnus Steyn, gekies is.

Mnr Steyn het die simboliek agter hierdie naam as volg verwoord: “Dit maak my opgewonde, want bye is van nature hardwerkende, sosiale wesens. Hulle is onontbeerlik in die landbou, en maak ‘n verskil aan die gemeenskap met heerlike, soet heuning – soos ook verbeeld in die skoolwapen.” Meer as 1 000 opgewonde stemme eggo reeds gereeld in Die Byekorf.

Voortaan sal die bekende WoWee Woensdae, leierskursusse, musiek- en toneelaande, sokkies en ander funksies hier aangebied word.

Dirk Albertyn

Dirk Albertyn het "Die Byekorf" uitgedink.

Die Byekorf 1

Die Byekorf

***

Suandrie is ‘n yster

Suandrie Corbett

Suandrie Corbett

Praat mens van ‘n yster-meisie? Iemand wie aan hierdie beskrywing voldoen is beslis Hoërskool Merensky se veelsydige graad 9-leerling, Suandrie Corbett. Hierdie leerling het die afgelope 14 dae haar talent op vele terreine bewys.

Eers het Suandrie op 5 Augustus haar Pre-Exam: Intermediate Foundation Phase in Polokwane, ter voorbereiding van haar komende balleteksamen, afgelê. Daarna het sy op 9 Augustus op die vliegtuig geklim om as Limpopo se voorprater die ATKV-redenaarsfinaal in die onvoorbereide afdeling by Goudini Spa by te woon.

Die volgende middag het Suandrie slegs 2 ure gehad om saam met 24 bekkiges ‘n toespraak: Moet Wiskunde verpligtend op skool wees, voor te berei en aan gesoute beoordelaars voor te hou. Suandrie het redeneer dat Wiskunde nie verplig moet word nie. Haar argumente was as volg: “Daar is te min kundige onderwysers om die vak te doseer; Ander vakke kan dan meer aandag geniet; Presteerders kan dan beter vaar en keuring vergemaklik.”

Op 12 Augustus is sy terug in Limpopo om as hulpdoel vir die Plasie o.15A-netbalspan vyf wedstryde tydens die Kay Motsepe Toernooi in Mokopane te speel.

Nog is het einde niet: op Maandag, 14 Augustus speel sy drie diamanttoekennings los met haar dwarsfluit, tydens die jaarlikse Tzaneen Musiekeisteddfod.

Plasieland salueer hierdie ster van ‘n leerling en vertrou dat haar talente nog menige toeskouer gaan beïndruk.

***

Beoordelaar sonder sokkies

musiek-eisteddfod 4

VOKAAL EN INSTRUMENTEEL: Kesia Pohl, Jamie Robertson en Danzi Ivy.

Mnr. Chris van Staden, beoordelaar van die musiekafdeling van die pasafgelope Tzaneen Eisteddfod, was behoorlik uit sy skoene geskud deur die aanbieding van die 2017 sêrgroep van Hoërskool Merensky. In sy eie woorde: “Ek het nie skoene aan nie, because you blew my socks off”. Die groep het met uitmuntende sang ‘n diamanttoekenning (95%) vir hul item verwerf.

Die Plasie-sêrgroep, onder leiding van mnr. Magnus Steyn Jnr en me. Merise Botha, het een van Bouwer Bosch se liedjies Dit klink na lente verwerk vir die geleentheid. Hiermee is geskiedenis gemaak, aangesien dit die eerste keer is dat ‘n plaaslike sêrgroep aan hierdie jaarlikse eisteddfod deelneem.

Van Staden kon nie uitgepraat raak oor die musikale talent in die omgewing nie. Hy het ook telkens in sy repliek verwys na die wonderlike geleenthede wat Hoërskool Merensky aan sy leerlinge bied.

Die Engelse been van die 2017 Eisteddfod vind vanaf 18 tot 23 September op Plasieland plaas. Die gala-aand sal op 28 September in die skoolsaal die jaar se Eisteddfod afsluit.

musiek-eisteddfod 2

KITAARSPELERS: Alexia Oosthuizen, Johandrie Klopper, Shilo van den Bergh en Kayla Gaigher.

musiek-eisteddfod 3

KITAARGROEP - Voor: Kieran Albertus. Agter: Aldrich Hugo, Tiaan Viljoen, Gunther Katzke, Jahdin Fleischmann en Jaco van Staden.

musiek-eisteddfod 1

DIE SÊRGROEP - Voor: Casper Jordaan. Ry 2: Imcke van Vuuren, Mariesa Schutte, Michaela Elbrecht, Hayley-Kay Buys en Refilwe Masehela. Ry 3: Shilo van den Bergh, Jade Barnatt, Meggan Cloete, Monique Zhanda, Carmen Ferreira, Charmaine Ramokhola, Daniëlle Kasselman en Noah Mafaralala. Agter: Sean Hunt, Ockert Fernandes, Bianca Elbrecht, Cameron Buys, Mienke Lombard, Hayley Stephenson, Lize Crafford, Iszabella le Roux, Jordin Young en Dee-Anne Preece.

***

Plasie-duo verdedig Verenigde Arabiese Emirate

UN Debating Team

Zenasia Nukeri (MHS), Ndzalama Maake (Vuthlari), Tamia Mashele (Vuthlari) en Angela Trzeciak (MHS).

Op die Plasie-kalender is die provinsiale ronde van die South African Model United Nations debat ‘n hoogtepunt vir gladdebekke om in Engels hul saak te stel.

Vanjaar het Zenasia Nukeri (graad 10) en Angela Trzeciak (graad 11) kragte gesnoer met Ndzalama Maake en Tamia Mashele van Vuthlari High School, om die Verenigde Arabiese Emirate se saak te bepleit. Hierdie is ‘n baie interessante debat, aangesien die spanne inligting rondom sosio-ekonomiese kwessies en kolonialisme van die betrokke land wat hul verteenwoordig moet navors en in hul debatsgesprek gebruik.

20 Spanne het aan hierdie kompetisie in Lebowakgomo deelgeneem en het die VAE-span derde geeïndig.

***

Provinsiale kleure vir Merensky-ruiters

Plasie-ruiters

Salomé Lombard, Dominique Bond, Genevieve van der Merwe, Wandri van Rensburg en Dawie van Jaarsveld.

Anri van Rensburg

Anri van Rensburg

‘n Sestal Plasie-ruiters het onlangs hul provinsiale kleure vir Western Mounted Games en SANESA ontvang.

Salomé Lombard, Dominique Bond, Genevieve van der Merwe, Wandri van Rensburg en Dawie van Jaarsveld het almal op WMG Vlak 2 gekwalifiseer. Anri van Rensburg behaal haar kleure op WMG Vlak 3.

Hierdie ruiters het ook gekwalifiseer vir SANESA: Dominique en haar perd Bonnie op Vlak 0, Genevieve en haar perd Doc Bonnita op Vlak H1WMG02 en H4WMG03 (A-spanne), Dawie en sy perd Robyn Ruby op Vlak H4WMG03 (A-span) en Salomé en haar perd Belmonty op Vlak H4WMG03 (B-span).

***

Landloop wen interhoër

Landloop interhoer 1

DIE INTERHOËRSPAN - Voor: Sancha van Niekerk, Micaela Dale, Amelia Middleton, Anri McLean, René Wiese en Jenelle de Jonge. Agter: Francois Nothnagel, Ikne Stucki, Janco Coetzee, Jean-Jacques Moller, Johan Haynes en Armand Cronjé.

Op landloopgebied kon niemand by Hoërskool Merensky se senior dogterspan kers vashou nie. Hierdie gedugte span het saam met die seuns op Maandag, 14 Augustus aan die hoërskole landloop interhoërbyeenkoms te Louis Trichardt deelgeneem.

René Wiese het hakskene gewys en eerste oor die wenstreep genael. Kort op haar hakke was spanmaats Anri McLean, Amelia Middleton, Sancha van Niekerk, Jenelle de Jonge en Micaela Dale. Met hierdie prestasie behaal hul die eersteplek.

Die senior Plasie-seunspan, Armand Cronjé, Janco Coetzee, Francois Nothnagel, Jean-Jacques Moller, Ikne Stucki en Johan Haynes het eweneens verbete geveg en ‘n tweedeplek behaal.

Gelukwense aan die volgende landlopers wie op 9 September Limpopo sal verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe by Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom: René, Anri, Micaela, Janco, Ikne, Armand en Francois.

***

“All Out”-hokkie op Plasieland

2017-hokkieafsluiting 1

Die wenkoek.

Hokkiespelers van Hoërskool Merensky het behoorlik fees gevier tydens die jaarlikse afsluitingsfunksie op Donderdag, 17 Augustus.

Hierdie gewilde funksie het afgeskop met die beoordeling van 10 koeke – 1 vir elke span – wat die tema, All Out Hockey weerspieël het. Die eerste seunshokkiespan se skepping het ‘n hokkieveld en eerstespantrui uitgebeeld. Tweedeplek word gedeel deur die tweede- en o.16-seunspanne. Matrieks is gegroet en borge en ouers is bederf by hierdie pretfunksie.

Prestasies om van kennis te neem is JJ Davis wat gekies is vir die SA-Bokkiespan en eerstespankaptein, Stefan Prinsloo, wat deel is van die Gazelle-span. Die o.14-dogterspan is geprys oor die feit dat hul in die Noordvaal-finale gespeel het, die enigste Limpopo-span wat dit kon regkry. Die o.14- en o.16-seunspanne het ook deurgedring na die Noordvaal-toernooi.

Plasieland is trots op ‘n dinamiese afrigterskorps wat elke geleentheid benut om hokkie koning te laat kraai.

2017-hokkieafsluiting 4

DIE EERSTE SEUNSPAN

2017-hokkieafsluiting 3

DIE EERSTE DOGTERSPAN

2017-hokkieafsluiting 5

VROLIKE AFRIGTERS - Voor: Mnr. Louis Fourie. Middel: Mee. Elri Verster, Anneke le Roux, Yvette Streicher en Lindi Britz. Agter: Mnr. Jacques Vosloo, mee. Izelle du Preez (seunsorganiseerder), Nadia Claasen, Anri Burger, mnr. Magnus Steyn (skoolhoof), mee. Gretha van Staden, Merise Katzke, Nadia Last (dogtersorganiseerder) en Elzette Hay.

***

Plasie-tennis bibber

Cradock tennistoernooi 1

Voor: Ross Hunter, me. Alexandra Dreyer (afrigter) en Ruben Potgieter. Agter: Hendro van Helsdingen, Marthin Theunissen, John-D Ball, Jeandré Booysen en Hanno Theunissen.

Cradock tennistoernooi 3

Hendro van Helsdingen met sy sneeuman.

Hoërskool Merensky se tennisseuns het weer hierdie jaar op Cradock aan die Marilie Moolman- en Ricky de Klerk tennistoernooie vanaf 15 tot 21 Augustus deelgeneem.

Deelnemende skole: Paarl Boys High, Menlopark, Diamantveld, Grens, Eunice, Marlow, Sasolburg, Cradock en Merensky het in ysige omstandighede kragte gemeet.

Merensky buig die knie voor Paarl Boys High, wie die toernooi wen.

***
MWG FESTIVAL AD
***
***
Andre-Lodges-Ad-Web
***
 
 
Powered by Mad Mimi®A GoDaddy® company