23 Januarie 2017 Plasies maak amok in Louis Trichardt Op Saterdag, 21 Januarie, het Hoërskool Merensky by Hoërskool Louis Trichardt aan ‘n vriendska

         
M-Bulletin-top
facebook twitter youtube

23 Januarie 2017

Plasies maak amok in Louis Trichardt

LTT Atletiek  2

Noko Malatji (110m hekkies rekordhouer)

Op Saterdag, 21 Januarie, het Hoërskool Merensky by Hoërskool Louis Trichardt aan ‘n vriendskaplike atletiekbyeenkoms deelgeneem.

Uit die 6 skole teenwoordig, het die Plasies in totaal eerste geeïndig met 1006 punte. Hoërskool Louis Trichardt was in die tweede plek met 854 punte, en Hoërskool Eric Louw derde.

LTT Atletiek  6

Sancha van Niekerk (beste senior meisies baanatleet)

Merensky se Sancha van Niekerk is weer aangewys as beste senior dogter op die baan, met Vutomi Mkhabela die beste senior seun. Op die veld het die seniors, Kgabo Mamorabele Thato Shokane oorheers.

Plasieland se top 5 dogters vir die dag is Kgabo Mamorobela (verspring), Twane van Wyk (hoogspring), Donné Oosthuizen (hoogspring), Kesia Pohl (gewigstoot) en Emma Dalrymple-Hay (hoogspring).

Vutomi Mkhabele (200m), Thato Shokane (verspring), Reuben Caroto (200m), Noko Malatji (100m) en Piet Maake (driesprong) is aangewys as die top 5 seuns.

Hoërskool Merensky het 1 van die 3 rekords vir die dag gebreek: Noko Malatji (o.19) het die 110m hekkies in ‘n nuwe rekordtyd van 15, 30 sekondes genael. Noko het in 2016 reeds homself begin bewys op die baan.

Merensky neem weer Vrydag, 27 Januarie by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier deel.

LTT Atletiek  3

Kgabo Mamorobela (Nr. 1 van top 10 dogters) en Glory Mabidilala

 
LTT Atletiek  5

Donné Oosthuizen seil oor die dwarslat.

LTT Atletiek  1

Kesia Pohl

 
LTT Atletiek  7

Vlugvoetige Reuben Caroto

***

Dominique pronk in die saal

Dominique Bond

Dominique Bond en Bonnie

Hoërskool Merensky se Dominique Bond het aan op 21 en 22 Januarie aan die Reining & Western Performance Horse Training Skou by Uitzoek Stalle deelgeneem.

Dominique is beoordeel in die Adult Novice-groep en het die volgende plekke behaal:
Western Trail - 4de
Ranch Pleasure - 3de
Western Horsemanship - 2de
Western Dressage - 1ste
Western Pleasure - 5de

Hierdie skou is op 14 Januarie deur ‘n Horsemanship-kliniek voorafgegaan. Dominique en haar perd, Bonnie, was bevoorreg om deur die bekende Ed Harrison, afrigter van die Amerikaanse Reining Kampioen, Casey Deary, onder hande geneem te word.

***

Merensky wys tenniskapteine aan

2017Tenniskapteine

Stefan Pretorius, me. Alexandra Dreyer (afrigter) en Valeriia Avdysh.

Twee matrikulante en kranige tennisspelers van Hoërskool Merensky, Valeriia Avdysh en Stefan Pretorius, is aangewys as die tenniskapteine vir 2017.

***

MooPoo-pret op Plasieland

MooPoo  4

Jo-Leigh Pretorius en Mandie Gericke.

‘n Warm laeveldmiddag. ‘n Drie meter lange modderbad. ‘n Skare toeskouers. ‘n Brandweerwa met skoon water. 280 opgewonde, blinknuwe Plasies. Kameras klik. ‘n Tradisie word voortgesit.

MooPoo is die hoogtepunt vir elke nuwe Plasie. Van onnies tot skiewies trap vas teen die skuinswal, haal diep asem, knyp neus toe en duik onder die bruin onwelriekende mengsel in.

Te oordeel aan die vrolike, breë glimlagte is hierdie ‘n tradisie wat nog lank op Plasieland gaan voortleef.

Na ‘n week van inburgering, Interhuis Atletiek, Skiewiekonsert oefeninge, Besemsokkie, MooPoo en die klokluiseremonie, ontvang die graad 8-nuwelinge ‘n spesiale erkenning in die vorm van ‘n sertifikaat.

Hoërskool Merensky verwelkom elke nuwe leerder met ope arms.

MooPoo  7

Die MooPoo-gat. ‘n Jarelange tradisie op Plasieland.

MooPoo  5

Chantell Maswanganyi en Chris Bill begelei ‘n Skiewie deur die moddergat.

 
MooPoo  3

Moddermaats

***

Boeta is gevind

2017Skiewiekonsert  12

Frikkie Deysel (Xander Steyn) word deur Welma (Joëlle Bols) gevra vir ‘n lys verdagtes. Shaggy (Christof Joubert) met sy hond, Scooby (Shaakir Ismail) en Fred (Retief Fourie) kyk toe.

2017Skiewiekonsert  1

‘n Boef (Xander Steyn) steel Boeta (Victor Rabapane).

Die nuwe graad 8-Skiewies op Plasieland het presies vier dae gehad om ‘n uithaler konsert die lig te laat sien.

Die soektog na Boeta, enigste erfgenaam van die beste sitrusboer in die land, wat “verdwyn”, het met vele kinkels op die verhoog afgespeel. Tydens die twee vertonings op Donderdag, 19 Januarie was niemand in die gehoor teleurgestel nie. Toneel en groepdans het gesorg vir groot vermaak. Die skerp teks, interessante dekor en skiewie-toewyding het die aansteeklike Plasie-gees bewys.

2017Skiewiekonsert  8

Die hoof (Rain Terblanche) en mev. De Lange (Michaela Elbrecht) sluit by die soektog aan.

Selfs die skoolhoof, mnr. Magnus Steyn, en sy Harley het deurgeloop.

Nadat elkeen sy hart uitgespeel het, het die groot oomblik aangebreek waar die beesklok tradisioneel gelui is as teken van volwaardige Plasie-status in murg en been.

Hoërskool Merensky bedank die dinamiese Uitvoerende Komitee van 2016/2017 vir ‘n uitstekende produk.

2017Skiewiekonsert  9

Keith Jerenyama en Lulama Nkuna is vermomde ondersoekbeamptes.

 
2017Skiewiekonsert  7

Shaggy (Christof Joubert) verduidelik vir Boeta (Victor Rabapane) hoe dinge op Plasieland werk.

2017Skiewiekonsert  2

Daphne (Mariesa Schutte) vra vir Gandalf (Eric van den Dool) om te help soek na Boeta, terwyl Fred (Retief Fourie) aan ‘n plan dink.

 
2017Skiewiekonsert  6

Dit is braaidag vir Ruan van Rooyen, Brett Richter en Ronan Theron.

2017Skiewiekonsert  5

Die Flintstones op die kegelbaan.

***

Nog Plasies ontvang Presidentstoekenningsertifikate

Presidentstoekenningsertifikate  1

Chelsea Schlebusch spog met ‘n silwer Presidentstoekenningsertifikaat wat sy verdien het vir haar 2016 portefeulje.

Presidentstoekenningsertifikate  2

Lisa MaGuire, Steph-Marie de Lange, Hayley Stephenson en Lize-Ri Snyman het voldoen aan die Presidentstoekenning vereistes vir ‘n brons sertifikaat.

***

Merensky woon ATKV-kursusse by

Beoordelaarskursus  1

Claudia Olivier het haarself bekwaam as ATKV-beoordelaar.

Op Vrydag 20 Januarie het me. Claudia Olivier, nuwe leerkrag by Hoërskool Merensky, ‘n kursus te Polokwane voltooi om haar te bekwaam as geregistreerde ATKV-Redenaarsbeoordelaar.

Aangesien die Plasies se debatslus reeds verlede jaar aangewakker is, het sewe leerders op Saterdag, 21 Januarie by haar aangesluit ten einde ‘n debatslypskool by Pietersburg Hoërskool by te woon.

Hoërskool Merensky sien met groot verwagting uit na die vrug wat hierdie kursusse sal afwerp.

Debatskursus  4

JUNIOR DEBAT: Amelda Pretorius, Meggan Cloete, me. Claudia Olivier (afrigter), Suandrie Corbett, Jamie Robertson en Dirk Crafford.

Debatskursus  2

JUNIOR EN SENIOR DEBAT Agter: Jamie Robertson, Dirk Crafford, Amelda Pretorius, Stefan en Suandrie Corbett. Voor: Lize-Ri Snyman en Megan Cloete.

***

Merensky Muso’s presteer

Lize Mostert

Lize Mostert

 
Jean-Luc Schalkwyk

Jean-Luc Schalkwyk

Hoërskool Merensky is trots om aan te kondig dat twee van hul musiekleerders, Lize Mostert en Jean-Luc Schalkwyk se name nou op die UNISA-ererol van uitblinkers verskyn.

Lize het 90% plus behaal vir haar viool voorgraad 1 eksamen, terwyl Jean-Luc ‘n koel 99% vir sy Teorie, voorgraad 1 behaal het.

Beide is leerlinge van mev. Ingrid Linde, verbonde aan die Musiek-, Dans-, Drama- en Kunsskool by Merensky.

***

Oud-Plasie nou advokaat

Ronald Ernst

Ronald Ernst

Hoërskool Merensky is baie trots op Ronald Ernst wat sy pupilskap by die Pretoria se balie voltooi het en nou teogelaat is as advokaat by die hooggeregshof in Pretoria.

Ronald het in 9 jaar na skool Bcom Regte, LLB, Mcom (Handelsreg), Regskool (Tukkies), Klerkskap en Pupilskap suksesvol voltooi.

Veels geluk, Ronald, jy maak ons trots!

***

Vir u kennisname...

Sommige van u het dalk al opgelet dat daar ontwerpfoute op die omslag van ons 2017-dagboekie is.

Hiermee wil ons u graag in kennis stel dat die boekie, sonder die medewete van Merensky, deur die drukkers so gedruk is. Die drukkers het om verskoning gevra, maar die koeël is deur die kerk en na 'n lang beraadslaging is besluit dat, a.g.v. praktiese redes, ons maar hierdie jaar met dié boekie sal uitsien.

Ons is egter ernstig daaroor om nie weer dieselfde fout te maak nie en sal in die toekoms die nodige stappe neem om dit ten alle koste te verhoed.

***
Ouerbraai invitation 2017
***
Whats-up-24-30-Jan-2017
***

Hierdie M-Bulletin is trots geborg deur

Auto Pedigree - Merensky Banner Advert  Tzaneen  550x180px
***
school-communicator-banner
1px